Onwankelbaar – Dag 13: Geloof sien verder as die storm

Markus 4:39-40 NLV
“Jesus het opgestaan, die stormwind ernstig aangespreek en vir die see gesê: “Bedaar! Word kalm!” Toe het die wind gaan lê en daar het ’n groot rustigheid gekom. 40Hy vra toe vir hulle: “Hoekom is julle so verskrik? Vertrou julle My nog steeds nie?”’”
Storms kom oor ons almal se pad. Hulle kan jou onkant betrap, jou oorweldig, en alles skud waarin jy jou sekuriteit gevind het. Soms is die storm ‘n gesondheidstryd, soms is dit verlies, verwerping, of finansiële druk. En soms is dit bloot die moegheid van wag vir dinge waarvoor jy hoop, maar wat nooit kom nie.
In die vierde hoofstuk van Markus beskryf hy hoe die dissipels hulself in ‘n daadwerklike storm bevind – terwyl Jesus rustig onder in die skuit slaap. Hulle het paniekerig geraak omdat hulle na die golwe gekyk het, in plaas daarvan dat hulle onthou het wat Hy vir hulle gesê het. Jesus het voor die storm vir hulle gesê: “Kom ons gaan na die oorkant.” Sy Woord het die belofte gedra, maar hulle vrees het hulle laat vergeet wat Sy woorde aan hulle was.
Geloof ignoreer nie die storm nie. Geloof onthou die belofte terwyl storm om hom woed.
Romeine 10:17 AFR20
“Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus.”
Geloof begin wanneer ons God se Woord ken en glo. Dit kom wanneer jy jou hart vestig op wat God gesê het, eerder as op dit wat jy sien. Vrees luister na die storm. Geloof luister na Jesus.
2 Korintiërs 5:7 NLV
“Want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.”
Om deur geloof te leef, beteken nie dat ons voorgee dat probleme nie bestaan nie. Dit beteken dat ons kies om te glo dat God se waarheid groter as ons probleem is. Toe die dissipels op die wind en golwe gefokus het, het vrees hulle harte oorheers. Maar toe Jesus gepraat het, het alles verander.
Jesaja 41:10 AFR20
“Moenie bang wees nie, want Ek is by jou; moenie vrees nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou; ook help Ek en ondersteun Ek jou met my seëvierende regterhand.”
Geloof beteken nie dat ons al die antwoorde het nie. Geloof beteken dat ons die Een te vertrou wat die antwoorde het. Wanneer jou oë op Jesus gerig is, kom vrede, selfs in die middel van die storm.
Petrus het dit op die harde manier geleer toe hy uit die skuit geklim en op water begin loop het. Solank hy na Jesus gekyk het, het hy die onmoontlike gedoen. Die oomblik toe hy na die golwe gekyk het, het hy begin sink.
Matteus 14:30-31 AFR20
“Maar toe hy sien hoe sterk die wind was, het hy bang geword. Toe hy begin sink, skreeu hy: “Here, red my!” 31Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: “Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”
Geloof sien verder as die storm. God is nie in beheer van die storm nie – beide natuurstorms en “die storms van die lewe” kom dikwels sonder oorsaak, of as gevolg van ons of iemand anders se slegte besluite. Maar dit is belangrik om te onthou dat die golwe aan Sy stem gehoorsaam is. Die winde buig voor Sy Woord. Maak nie saak wat om jou wankel nie, Sy vrede binne jou is sterker.
Johannes 16:33 NLV
“Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.”
Ons het die gesag in Christus om storms aan te spreek en te sien hoe dinge verander. Maar selfs al verloop dinge nie soos ons gehoop of verwag het nie, kan jy kies waarop jy jou fokus rig – en daardeur bepaal hoe dit met jou hart gaan.
Hou jou oë op Jesus, want Sy vrede sal jou deurdra. Storms hou nie vir ewig nie, maar die Woord van God wel.
Wanneer jy Sy Woord te midde van die storm vertrou, sal jy sterker, wyser en met meer vrede daaruit stap – en dit is iets wat geen storm by jou kan steel nie.
Hierdie is ‘n uittreksel uit “Unshakeable”, deur Shayne Holesgrove. Tans in Engels in drukvorm beskikbaar. Binnekort beskikbaar in Afrikaans.
