Onwankelbaar, Dag 4: Die Werklikheid van die Opstandingslewe

Romeine 6:4 AFR53
“Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat, net soos Christus uit die dood opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook in ‘n nuwe lewe kan wandel.”
Die opstanding van Jesus is die grootste gebeurtenis in die menslike geskiedenis. Dit bewys nie net dat Jesus God in die vlees is nie, maar dit vorm ook die grondslag van jou nuwe lewe. Toe Jesus uit die dood opgestaan het, het Hy nie alleen opgestaan nie. As jy die evangelie geglo het, dan het jy geestelik -dus, in die ewige werklikheid – saam met Hom opgestaan.
Die oomblik wat jy kies om die evangelie te glo, identifiseer jy met Christus. Toe Hy gesterf het, het jy gesterf. Sy opstanding is jou opstanding. Die oomblik wat jy geglo het, het Sy oorwinning jou werklikheid geword. Jy is nie meer op soek na die ware lewe nie; jy het dit reeds. Jy is saam met Christus opgewek en jy is saam met Hom lewendig gemaak.
Efesiërs 2:4-6 NLV
“Maar God se ontferming is oorvloedig. Die liefde waarmee Hy ons liefgehad het, was so groot dat toe ons verkeerde lewe ons geestelike dood veroorsaak het, Hy ons saam met Christus lewend gemaak het. Dis dus God se genade wat maak dat julle verlos is! Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee.”
Dit is nie net ‘n belofte vir die toekoms nie. Dit is nou, op hierdie oomblik, die waarheid. Jy is saam met Christus lewend gemaak. Dit beteken jou verlede definieer jou nie meer nie. Die mag van sonde en dood is gebreek. Jy wag nie vir oorwinning nie. Jy wandel reeds daarin.
Romeine 8:10-11 [vertaal uit die AMPC]
“Maar as Christus in julle leef, al is julle natuurlike liggaam dood as gevolg van sonde en skuld, is die gees lewend vanweë die geregtigheid wat Hy aan julle toereken. En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dood opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus Jesus uit die dood opgewek het, ook julle sterflike (kortstondige, verganklike) liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.”
Dieselfde krag wat Jesus uit die dood opgewek het, leef nou in jou. Dit beteken daar is geen situasie so donker, geen mislukking so finaal, en geen swakheid so diep dat Sy lewe nie vernuwing kan bring nie.
Dit is hoekom die apostel Paulus soveel lyding kon trotseer en steeds kon juig. Hy het verstaan dat opstandingslewe nie beteken dat ons beproewinge in hierdie lewe gaan vryspring nie, maar dat ons God se lewe deur enige storm in ons binnekant kan dra.
2 Korintiërs 4:7-10 NLV
“So het Hy ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God wat uit die gesig van Jesus Christus straal. Ons het hierdie skat egter maar net in breekbare kleipotte – die allesoortreffende krag kom van God en nie van ons nie. Op elke manier word ons onder druk geplaas, maar ons is nie verpletter nie; ons is verward, maar nie wanhopig nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; platgeslaan, maar nie vernietig nie. Ons dra altyd die sterwe van Jesus in ons liggaam saam sodat ook die lewe van Jesus sigbaar kan word in ons liggaam.”
Wanneer jy swak voel, onthou dat Sy opstandingslewe in jou aan die werk is. Jy mag dalk druk ervaar, maar jy word nie terneergedruk nie. Jy mag dalk neerslagtig voel, maar jy is nie vernietig nie. Die lewe van Jesus binne-in jou is groter as enige dood rondom jou.
Filippense 3:10-11 [vertaal uit die AMPC]
“Want my doel is dat ek Hom mag ken, dat ek Hom al hoe dieper en intiemer mag leer ken, dat ek die wonders van Sy Persoon sterker en duideliker mag waarneem, herken en verstaan, en dat ek op dieselfde manier die krag wat uit Sy opstanding vloei, wat dit oor gelowiges uitoefen, mag leer ken, en dat ek sy lyding so mag deel dat ek voortdurend in gees verander word na Sy gelykenis tot in Sy dood toe, sodat ek, die geestelike en morele opstanding kan bereik wat my uit die dood ophef, selfs terwyl ek in die liggaam is.”
Die opstanding gaan nie net oor ‘n dag in die geskiedenis of ‘n toekomstige hoop nie. Dit is die lewe wat jy nou leef. Jy het opstandingskrag wat deur jou gees vloei. Jy kan enige situasie trotseer met die wete dat dieselfde Gees wat Jesus uit die dood opgewek het, in jou werk en vir jou lewe, wysheid en krag gee.
Wanneer jou hart moeg voel, slaan jou oë op na hierdie waarheid: jy leef in Christus. Sy opstanding is jou werklikheid. Sy oorwinning is jou oorwinning. En Sy lewe in jou is onstuitbaar.
Hierdie is ‘n uittreksel uit “Unshakeable”, deur Shayne Holesgrove. Tans in Engels in drukvorm beskikbaar. Binnekort beskikbaar in Afrikaans.
