GRACELIFE CENTRAL IS A VIRTUAL OFFICE SERVING ALL CAMPUSES
+27 (0)21 880 0168
info@gracelife.co

Onwankelbaar – Dag 5: Ons Kyk Nie na dit wat sigbaar is nie

Onwankelbaar – Dag 5: Ons Kyk Nie na dit wat sigbaar is nie

2 Korintiërs 4:17-18 NLV

“17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan. 18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.”

Elkeen van ons beleef oomblikke wanneer die lewe swaar en onuithoudbaar voel. Paulus het ook daardie gevoel geken. Hy is fisies mishandel, gevangene geneem, verraai en verwerp. Tog het hy dit alles “gering en tydelik” genoem. Dit was nie omdat dit vir hom maklik was nie. Dit was omdat hy dit deur die lens van die ewigheid gesien het.

Paulus het nie hierdie krag ontvang deur voor te gee of homself te verbeel dat sy probleme nie bestaan het nie. Die krag kon in en deur hom vloei omdat sy fokus op iets groter as sy probleme was. Hy het na alles in sy lewe deur ’n spesifieke lens gekyk – die ewige heerlikheid van Christus binne Hom.

Wanneer ons net gefokus leef op dit wat ons kan sien en voel en met ons sintuie ervaar, word die lewe oorweldigend. Die pyn voel finaal, die verlies voel ondraaglik, en die onsekerheid voel eindeloos. Maar wanneer ons ons oë opslaan na die onsigbare werklikheid, vind ons vrede wat hierdie wêreld nie kan gee nie.

Kolossense 3:1-3 AFR53

“1 AS julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God sit. 2 Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie. 3 Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.”

Die Woord leer ons om ons gedagtes te rig – nie op die dinge wat ons sien nie, maar op die waarheid, wat in die Gees is. Pyn en swaarkry is tydelik, maar God se waarheid, lewe, liefde en vreugde is ewig, en vir ewig joune. Jou huidige lyding is nie jou laaste hoofstuk nie. Die onsigbare werklikheid van Christus in jou is kragtiger as enige omstandighede wat jy rondom jou kan sien.

Romeine 8:18 NLV

“Tog is wat ons nou ly niks in vergelyking met die heerlikheid wat Hy later aan ons sal openbaar nie.”

Dit gaan nie net oor die “hemel eendag” nie. Dit beteken ook dat God se heerlikheid in jou selfs nou, in hierdie oomblik, groter is as dit wat jy in die gesig staar. Wanneer jy jou gedagtes op Hom rig, begin jy vanuit vrede in plaas van paniek, geloof in plaas van vrees, en vreugde in plaas van wanhoop, leef.

Jesaja 26:3 AFR53

“U sal ‘n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.”

Die geheim tot vrede in moeilike tye is fokus. Waar jou gedagtes rus, volg jou hart. Wanneer jou gedagtes op Christus gevestig is, bewaak Sy vrede jou siel, selfs in chaos.

Dit beteken nie dat jy pyn ignoreer of die werklikheid ontken nie. Dit beteken dat jy kies om verder as dit te sien. Jy erken wat gebeur, maar jy erken ook ‘n groter waarheid: dat Christus in jou is, dat die ewigheid werklik is, en dat heerlikheid jou bestemming is.

Geloof lig jou oë van die storm na die Verlosser. Geloof herinner jou daaraan dat geen seisoen vir ewig duur nie. Geloof anker jou hart in ’n fondasie wat nie geskud kan word nie.

Hebreërs 12:2 CAB23:

“Laat ons elke las aflê en die sonde wat ons so maklik tref, en laat ons die wedloop wat voor ons lê, met geduld hardloop, Met die oog op Jesus, die Skepper en Voleinder van ons geloof; wat vanweë die blydskap wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het, en sit aan die regterhand van die troon van God.”

Daar is altyd meer omtrent jou storie as wat jy sien. Die sigbare wêreld is tydelik, maar die onsigbare wêreld is vir ewig. Die pyn van vandag kan nie vergelyk word met die heerlikheid wat in jou geopenbaar word nie.

Hou jou oë op Jesus. Hy bly dieselfde: gister, vandag en vir ewig. En as jy na Hom kyk, sal jy sien dat Sy heerlikheid selfs in jou moeilikste oomblikke aan die werk is: besig om jou hart te vorm en jou geloof te versterk.

Hierdie is ‘n uittreksel uit “Unshakeable”, deur Shayne Holesgrove. Tans in Engels in drukvorm beskikbaar. Binnekort beskikbaar in Afrikaans.

Tags:

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *